Зубин Мета – тема
Zubin Mehta is 'n Indiese dirigent van Westerse en Oosterse klassieke musiek. Hy is tans Musiekdirekteur van die Israel Filharmoniese Orkes, en Emeritusdirigent van die Los Angeles Filharmoniese Orkes.
Mehta se vader was die stigter van die Bombaai Simfonieorkes en Mehta het sy vroegste musikale opvoeding by sy vader ontvang. Op ouderdom 18 het hy ingeskryf by die Weense Staatsmusiekakademie, van waar hy na drie jaar as 'n dirigent gegradueer het. Hy het internasionale kompetisies begin wen, en het die Koninklike Liverpool Filharmoniese Orkes op die ouderdom van 21 gedirigeer. In die 1960's het Mehta baie ondervinding opgedoen deur in te staan vir gevierde maestros dwarsoor die wêreld.
Mehta was vanaf 1961 tot 1967 Musikale Direkteur van die Montreal Simfonieorkes; asook Musiekdirekteur van die Los Angeles Filharmoniese Orkes vanaf 1962 tot 1978. So het hy die jongste musiekdirekteur ooit van enige groot Noord-Amerikaanse orkes geword. Hy is in 1969 aangestel as Musiekadviseur by die Israel Filharmoniese Orkes en in 1981 het Mehta die orkes se permanente Musiekdirekteur geword. Van 1978 tot 1991 was hy Musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes.