Tasha
Tasha het tydens die eerste seisoen van Die Kontrak, ’n realiteitsangkompetisie in 2018, haar merk as talentvolle kunstenaar gemaak nadat sy in verskeie van die episodes lof ontvang het vir haar optredes. Daar is tóé reeds voorspel dat sy nog diep spore in die musiekbedryf sou trap.
Volgens Tasha het Die Kontrak vir haar nuwe deure in die Afrikaanse musiekbedryf oopgemaak en haar in staat gestel om ’n nuwe vlak te betree. Vandag bevind sy haarself as een derde van die pop-countrygroep BlackByrd, saam met Tarryn Lamb en Tasché.
Tasha was vir ’n geruime tyd stil in haar solo-kapasiteit terwyl sy saam met BlackByrd die land vol getoer het. Vir haar terugkeer na die verhoog as solo-kunstenaar, het sy dit goedgedink om die lied “Die Mense op die Bus” deur Laurika Rauch op te neem en só ’n stukkie van haar hart met Suid-Afrika te deel.
Tasha is opgewonde oor die reis wat vir haar voorlê. Die volgende hoofstuk van haar loopbaan is geklee in soveel vrede, opwinding en verrassings.